News/Nuus

Megaboere en Piet Croucamp op kassie

Lekker kyktyd op televisie is ‘n nuwe program oor SA se megaboere. Dr. Piet Croucamp is die aanbieder.

Suid-Afrika se megaboere gaan in 13 episodes van ʼn nuwe KykNET-reeks aan die land bekend gestel word.

Die politieke ontleder dr. Piet Croucamp is die aanbieder van die reeks: Megaboere.

Volgens KykNET sal in die reeks gekyk word wat die betrokke boere suksesvol maak, wat die grootste landbou-uitdagings is en wat die “superboere” se oplossings hiervoor is.

Die reeks word Dinsdagaande 20:00 uitgesaai, met die eerste episode op 14 April wat oor die Karsten-boerdery gaan. Mnr. Piet en mev. Babsie Karsten het in 1968 op Kanon-eiland in die Noord-Kaap begin boer. Vandag is die onderneming een van die grootste produsente van uitvoertafeldruiwe.

Die agt plase in die boerdery is oor 300 km langs die Oranjerivier versprei. Buiten dat arsten die grootste dadelboer in die Suidelike Halfrond is, boer hy ook op groot skaal met bokke en skape.

Die ander grotes
Die ander boere of boerderygroepe wat elk in ʼn episode in die kollig gaan wees, is die vier Retief-neefs van die Van Loveren-familiewynmakery in die Robertson-vallei, mnre. Francis Visagie, Dorperboer van die Boesmanland, B.P. Greyling, saai-, bees-, skaap- en wolboer van Mpumalanga, Piet du Toit, wildboer en teler van skaars wild van Noordwes, Charl Senekal, die land se grootste suikerboer van KwaZulu-Natal, Kallie Schoeman van Schoeman-boerdery wat akkerbou in die Delmas-distrik bedryf en sitrus naby Marble Hall verbou, Jean Engelbrecht van die Rust en Vrede-wynlandgoed, en Louis de Kock, die land se grootste uieboer, asook me. Estelle van Reenen van die Sparta-groep wat bees- en beesvleisprodukte in die Vrystaat verskaf, die Du Toit-groep van die Wes-Kaap wat appels, pruimedante, nektariene en groente produseer, en dr. Kobus Hendriks, melkboer van Heilbron in die Vrystaat.

Die naam van die dertiende boerdery was teen druktyd nog nie bekend nie.

Hierdie artikel het eerste op Landbou.com verskyn in Maart 2015