News/Nuus

Die rol van Dutoit Vrugte na-oes tegnies en laboratorium

Na-oes tegnies en die laboratorium is verantwoordelik vir verskeie take wat alles verband hou met die behoud van vrugkwaliteit. Die hooftaak van die laboratorium in die eerste 4 maande van die jaar, is rypheidsindeksering.

In hierdie vier maande is daar vanjaar:

  • 4 530 rypheidsmonsters uit 450 boorde getoets om te verseker dat die boorde betyds vrygestel word vir pluk.
  • 'n Totaal van 6 880 vrugmonsters in die 86 BA kamers gesit om later in die jaar te kan uithaal om die vrugkwaliteit per BA kamer te monitor.

Die laboratorium personeel bestaan uit 8 assistente en Marilyn Carolus wat die bestuurder is. (Ons moes vanjaar twee ekstra assistente aanstel wat die steenvrug ontvangs QC gedoen het.) Adriaan Theron sit vanaf 02 Mei 2016 in die groot stoel en is oorhoofs verantwoordelik vir die laboratorium en na-oes take. Die rypheidstoetse moet elke dag voor 17:00 klaar wees sodat die lys van boorde wat vrygestel is vir pluk, nog dieselfde dag vir elke landgoed gestuur kan word. Terselfdertyd moet daardie 6 880 vrugmonsters in die 86 BA kamers gesit word soos wat elke BA kamer klaar gelaai word. Hierdie BA kamers is by Dutoit Vrugte, Crispy Coolers, Dewet Vrugte, Ceres Koelkamers en Coshla. Dit is dus ‘n baie bedrywige 4 maande.

Na die oes, deel ons hierdie 86 volgelaaide BA kamers in groepe volgens kultivar en volmaakdatums en begin ons om elke groep kamers se vrugkwaliteit te monitor. Hierdie inligting is nodig om die oopmaakvolgorde van die BA kamers te bepaal. Die BA kamers waarin die vrugkwaliteit begin afneem, word eerste oopgemaak en gepak soos wat die pakvloeiprogram vereis.

Tans is ons besig om vrugknoppies van elke appel- en peerboord deur te sny en onder die mikroskoop te identifiseer as reproduktief of vegetatief. Die reproduktiewe knoppies is die knoppies waaruit die bloeisels en uiteindelik die vruggies van die 2017 seisoen sal ontwikkel. Die uitslag van elke boord se vrugknopontleding word na die landgoedere toe gestuur waar dit saam met ‘n paar ander produksiefaktore gebruik word om te besluit hoe elke boord gesnoei moet word.

Ander vrugmonsters wat gedoen word:

  • Die nuwe steen- en kernvrug kultivars wat Tanith Freeman evalueer, se pluk-rypheid en opberging word gemonitor om die beste kultivars te identifiseer vir moontlike nuwe aanplantings.
  • Een karton gepakte vrugte word per pakweek per landgoed en kultivar in koelopberging op die rak gehou om ‘n rekord op te bou van die vrugkwaliteit. Hierdie data word bygehou om te kan vergelyk met die QC-verslae wat ons kliënte vir ons stuur van palette wat hulle ontvang het. As daar afkeurings is wat nie strook met wat ons hier sien nie, gebruik ons ons eie data om dit te bevraagteken en te probeer kanselleer.

Na-oes tegnies is ook verantwoordelik vir die rypmaak van Woolworths se Ripe-and-Ready nektariens en pere. Ons het 3 rypmaakkamers waarin 30 palette gelyk rypgemaak kan word. Dit is ‘n taak wat baie toegewyde aandag vra om te verseker dat ‘n goeie kwaliteit produk gekry word met die beste eetkwaliteit, houvermoë en kosmetiese voorkoms. Dikwels is dit nodig om sewe dae van die week vrugte ryp te maak en af te koel om Woolworths se bestellings betyds te kan diens.

Na-oes tegnies sluit nog verskeie verantwoordelikhede in waarvan die monitor van chemiese residue in die vrugte deesdae al hoe meer be-langrik word. Die verbruiker wil die versekering hê dat die vrugte wat hulle eet, nie ‘n gesondheidsgevaar inhou nie. Daarom moet ons gereeld vrugmonsters laat ontleed om te verseker dat geen residue die maksimum toegelate perk oorskry nie.

Vrugkwaliteitsprobleme soos interne verbruining, bitterpit, lentisel verval, bederf en swak houvermoë, kan lei tot groot finansiële skade en markte wat vertroue verloor in die produk en in die produsent. Daarom moet die na-oes tegnoloog die oorsake van hierdie probleme en die omstandighede wat daartoe aanleiding kan gee, nagaan en elke seisoen monitor om hierdie probleme sover moontlik te beperk.

Nuwe tegnologie is altyd interessant en leersaam. Die internet maak dit maklik om op hoogte hiervan te bly. Dit is opwindend om te hoor of te lees van nuwe tegnologie wat reeds in die praktyk getoets is en dus met sukses toegepas kan word . Dit is die na-oes tegnoloog se plig om te verseker dat relevante nuwe tegnologie hier getoets en/of toegepas word.

‘n Hoë prioriteit op hierdie stadium is definitief om ‘n stelsel / databasis te kry om die verwerking van die laboratorium se data te bespoedig. Hierdie databasis moet ook “real time” toeganklik wees vir, byvoorbeeld, die landgoedbestuurders om die vordering van die rypheidstoetse van hulle boorde te kan volg. Dit sal hulle baie help met elke dag se plukbeplanning.

Daar is so baie wat met al ons data gedoen kan word as ons dit elektronies in ‘n databasis beskikbaar kan kry. Ek het al dikwels ondervind hoe maklik dit is om byvoorbeeld tendense raak te sien as die syfers op ‘n grafiek, in plaas van in kolomme, op papier voorgelê word. Ons moet dit ook kan doen.

Ek sluit af met ‘n groet en goeie wense vir “my” laboratorium en na-oes personeel. Die werk wat julle doen is belangrik en word waardeer. Gaan so voort!

Deur: Petro Conradie