News/Nuus

Produksienuus - 2016 Oes

WES-KAAP VRUGTE
In die Wes-Kaap is 73 840 ton appels, 21 375 ton pere, 6 874 ton nektariens, 1120 ton perskes en 1 061 ton pruime ge-oes. Die kersies het ‘n rekordoes van 570 ton opgelewer. Dis ongeveer 200 ton beter as ons vorige rekord. Die kwaliteit was baie goed en die markte was ook gunstig.

Die grootste faktor wat ‘n rol in ons oes gespeel het, was die beperkte hoeveelheid winterwater. Alle vrugte produksie-eenhede was vanaf September op ‘n droogtebestuursprogram sodat ons die seisoen kon uitkom met ons water. Sekere produksie-eenhede moes noodgedwonge meer as die normale droogtebestuursprogram volg en moes hulle tonne met tot 20% verminder om met die beskikbare water deur te kom.

As gevolg van die droogte, het ons nie ons begroting op die tonne gehaal nie, enersyds omdat tonne verminder moes word en andersyds as gevolg van kleiner vruggrootte. 

Die uiters warm weer in Desember, Januarie en Maart het negatiewe effekte soos sonbrand, kleiner vruggrootte en swakker kleur van ons bicolors gehad. Die warmer temperature tydens oes het ook ‘n effek op hoe vrugte in ons koelkamers opberg en goeie monitering en bestuur van ons koelkamers vir die res van die jaar gaan van kardinale belang wees. 

Die droër klimaat het darem enkele voordele ook tot gevolg gehad. Dit het goeie kosmetiese afwerking van ons vrugte veroorsaak, gemeet aan insekskades en laer as normale swam druk.

Ook in die Wes-Kaap is ‘n kwaliteitsdryf strategie gevolg. Die oogmerk was om die aanboomkwaliteit van vrugte te verhoog. Fokus is op vruggrootte en kosmetiese afwerking geplaastydens uitdun en die daaropvogende Januarie ‘grooming’ van die boorde. Landgoedere moes  die pakbare vrugte na die pakhuis vermeerder en moes dus op die landgoedere strenger uitsoek. Vir Dutoit was dit ‘n stelselverandering en tyd sal leer of dit die regte besluit was.

Deur: Linde du Toit

GROENTE
Dutoit Groente het, in terme van ons uie, ‘n uitdagende jaar aan die produksiekant gehad. Desember en Januarie se geweldige hitte, tesamemet die ongeveer 70mm reën wat mid-Januarie geval het, het die  produk se kwaliteit beïnvloed. Dit was veral Platkloof en Skaapkraal wat die ergste deur die hitte geraak is. Ten spyte van al hierdie uitdagings, sien Dutoit Groente uit na ‘n goeie jaar wat ons uie betref, met buitengewoon hoë pryse op die lokale markte. Ons is tans volstoom aan die pak en behoort teen middel Augustus klaar te wees. Ons het 40340 ton ingeneem en dit was 100% van ons begroting.

Die Aartappels het ‘n gemiddelde jaar in terme van produksie en kwaliteit gehad. Watertekorte het veroorsaak dat die aantal hektare vir aartappelverbouing op Tandfontein en Bokkenfontein verminder moes word. Tans word die prosesseringsfabrieke ten volle voorsien. Daar is 17 378 ton ge-oes.

Dutoit Groente is baie opgewonde oor die patat wat vanjaar geproduseer en verpak gaan word. Bo-gemiddelde produksievlakke en uitpakke vir die oorsese mark, maak die prentjie baie positief. Nuwe variëteite, wat vanuit die VSA na RSA deur Upot gebring is, word ook getoets. Daar is 2529 ton patats ge-oes.

Deur: Pieter du Toit

OOS-KAAP
Die Oos-Kaap het 27 529 ton appels, 7340 ton pere en 2174 ton pruime ge-oes. Die weer tydens blomtyd was baie swak.

Ons het verwag dat pruime ongeveer 30% af sou wees. Danksy die goeie kwaliteit, kon ons egter 5% meer uitvoer as waarvoor ons begroot het. Die bestuiwing vir Forelle was ook swak en ons was bekommerd dat ons nie ons tonne sou haal nie. Die vruggrootte was egter goed en het gehelp dat ons die Forelle begroting kon haal. Danksy ‘n baie goeie Packham-oes het pere oorpresteer. Packhams is ons grootste peerlyn.

Ons het ook verwag dat ons 5% onder begroting op appels sou eindig. Goeie tonne op Grannies, Pink Lady en Cripp’s Red het gehelp dat ons baie naby aan ons begrote tonne eindig.

Daar was ‘n baie groot dryf om die kwaliteit van ons oes aanboom te verseker sodat daar nie onnodig klas 3-vrugte hulle pad na die pakhuis kry nie. ‘n Goeie “groom”-aksie is geloods na voltooiing van uitdun om van beskadigde vrugte ontslae te raak. Ons het egter ysreënskade op al die plase vanaf Louterwater weswaarts gehad wat ons kwaliteit negatief beïnvloed het, daarom het ons gelewerde OR tonne onder die begroting presteer. Naas ysreënskade, was ons tweede grootste defek sonbrand. Die hittegolwe het verseker hulle merk gelaat . Ons beraam dat die ysreënskade ongeveer 2% afname in OR-tonne veroorsaak het en sonbrand ‘n verdere 2%.

Oor die algemeen was ons vruggrootte, skilafwerking en kleur baie goed en was die bestuurbare defekte baie goed bestuur. Dit was ook een van die min jare dat ons nie op een van ons plase hael gedurende oestyd gehad het nie.

Baie dankie aan almal met hulle deursettingsvermoë met die voorbereiding, oes en verpakking van die 2016-oes. 

Deur: Johan Kotze