News/Nuus

PRODUKSIENUUS - 2017 0ES

WES-KAAP VRUGTE

  

Die 2017-seisoen in die Wes-Kaap is gekenmerk deur:

  • Droër winter en swakker gemiddelde winter koue-eenhede.
  • Die swakker winter koue het gelei tot ‘n meer komplekse chemiese uitdunstrategie vir appels. Op sy beurt het dit gelei tot groter vruggrootte-variasie tydens oes. Die groter variasie in vruggrootte het ook die rypheidsindeksering van die boorde bemoeilik, wat boord vrystellings kompliseer het.
  • Ryp het tydens ertjie-korrelgrootte op pere plaasgevind wat uiteindelik die oesvolumes en vruggroottes negatief beïnvloed het.
  • Die oesseisoen is gekenmerk deur ‘n warm droë somer wat gelei het tot hoër sonbrand, versnelde rypwording en swak kleurontwikkeling.

Nektarien en Perskes:

Ten spyte van die feit dat ons nie ons begrote volumes behaal het nie, was die kosmetiese kwaliteit en vruggrootte van die nektariens en perskes goed.

Pruime:

Ons het in totaal ‘n goeie volume-, kwaliteit- en vruggroottejaar beleef. Ons proewe op Excelsior onder nette het bewys dat ons beter vruggrootte en kosmeties uitpakke kan kry, maar weens onderstambeperkings is tonne wel ingeboet. Ons benodig dus nog tyd vir verdere evaluasie.

Kersies:

As gevolg van bogenoemde klimaat was ons kersieproduksie ook af. Vruggrootte was egter beter.

Pere:

Kosmeties was pere baie mooi. Sommige van die kultivars was egter baie negatief beïnvloed deur die ryp en vruggrootte wat waarskynlik die grootste beperkende faktor.

Appels:

Ons het ‘n gemiddelde appeloes sover gehad wat volumes betref. Sekere kultivars het rekord produksies gehad, terwyl ander eintlik onderpresteer het. Die grootste uitdagings was sonbrand, versnelde rypwording en swak kleur.

In totaal gaan die Wes-Kaap sy  begrote tonne behaal, maar ongelukkig is die “orchard run” volumes nie daar nie as gevolg van groter uitsoek op die plase weens verhoogde sonbrand, swak kleur en vruggrootte.            

Linde du Toit

 

WES-KAAP GROENTE

  

Uie

Teen die einde van Februarie was al die uie klaar geoes, met ‘n 8% afname in tonne. Die kwaliteit was hierdie jaar goed, met slegs enkele landgoedere wat uitdagings in terme van hul kwaliteit gehad het.

Vanaf Januarie tot Maart was die uie-prys onder geweldige druk, met baie groot volumes wat vanuit die Noord- en Wes-Kaap gekom het. Ons verwag egter dat die prys vir die oorblywende bemarkingsperiode goed gaan herstel.

Aartappels

Die aartappels se oes blyk gemiddeld te wees, beide in terme van kwaliteit en produksie. Ons was gedwing om drie nuwe 

kultivars te plant as gevolg van ‘n tekort aan moere, maar die gemotiveerde produksiespan het ‘n groot sukses van die produksie gemaak. Skaapkraal en Platkloof se aartappels is nog in hul groeifase, en behoort teen die middel van Mei oesgereed te wees.

Patat

Hierdie jaar lyk die patat na die wenproduk by Dutoit Groente. Produksie is gemiddeld tot bo-gemiddeld, met die kwaliteit wat baie goed is. Die patat is geoormerk vir die uitvoermark, met die huidige uitpakke wat 10% hoër is as waarvoor begroot is. Daar is reeds 30% van hierdie jaar se oes onderdak, en teen middel-Mei behoort die hele oes in te wees.

Pieter du Toit (Jr)

 

OOS-KAAP

  

  

Die 2017-seisoen in die Oos-Kaap is gekenmerk deur:

  • Baie warm en droë winter (2016) met min koue-eenhede.
  • Koel bewolkte en reënerige weer tydens die pruimblomperiode.
  • Ondergemiddelde reënval gedurende die lente en somerperiode. Dit het tot gevolg dat die meeste opgaardamme in die Langkloof tans leeg is, insluitende die Besproeiingsraad se damme. Waboom het egter normale reënval gehad en die plaas se damme is tans 70% vol.
  • Vruggrootte, wat van die begin af onder druk was as gevolg van die warm winter.
  • Hael wat in 6 produksie-areas voorgekom het, nl. Noll, Avontuur, Haarlem, Misgund (2 keer), Louterwater en Krakeel.

Pruimoes

Die Oos-Kaap se produksie was baie af as gevolg van die swak set-weer wat ons tydens blomtyd ervaar het. Oor die algemeen was die vruggrootte tussen een en twee tellings kleiner as in die 2016-seisoen. Kwaliteit was goed en ons het ons begrote uitvoerpersentasie gehaal.

Peeroes

Die produksies was minder af as die pruime, hoofsaaklik as gevolg van vruggrootte.  Kwaliteit was goed en ten spyte van die warmer weer was die kleur op Forelle goed. Die grootste afwyking was egter hael-merke en sonbrand.

Appeloes

Die Oos-Kaap behoort baie naby aan die begroting te eindig. Die jonger generasie boorde maak ʼn groot bydrae om die oeste te laat groei. Die kwaliteit-afwykings op die appels is vruggrootte, sonbrand en hael-merke. Die kleur op die variëteite wat ons reeds geoes het, was goed. Kleur op Pink Lady kan egter ʼn probleem met die warm herfsweer wees.

Johan Kotze