News/Nuus

Nuwe uieverpakking ‘n wenner!

Verpakking is 'n belangrike deel van die bemarkingsplan vir enige besigheid wat produkte produseer. Die verpakking van ‘n produk kan die verkoopspunt vir baie verbruikers wees, deur die lewering van 'n gevoel van gehalte, terwyl dit ook die beeld van die handelsmerk van die produk weerspieël. Dit is van kritieke belang in kleinhandelverkope om die regte verpakkingsontwerp te hê wat die verbruiker se oog kan vang en die produk laat uitstaan langs dié van die mededinger.

Dutoit Groente het besluit om nuwe lewe in ons klein verpakking te blaas. Na jare se gebruik van die Dutoit bandverpakking, was dit tyd om die masjien te vervang en ook ons klein verpakking en handelsmerk 'n nuwe gesig te gee.

John Davey, ons voormalige Groentebemarker, het op 'n buitelandse besoek hierdie konsep van verpakking gesien. Met sy terugkeer is baie huiswerk gedoen om die winsgewendheid van die verpakking te verseker en om publieke goedkeuring te toets. Na twee jaar se navorsing het Pieter du Toit jr met sy Nederlandse besoek die finale goedkeuring gegee.

In Desember 2016 het Goldpack die Newtec weegskaal en Jasa sakkiemasjien by Dutoit Groente geïnstalleer. Goldpack is reeds 45 jaar in die industrie en het ‘n reputasie van puik dienslewering en was daarom ons eerste keuse.

Die liniêre weegskaal, van Sweedse afkoms, kan ongeveer 45 sakkies per minuut weeg. Dis is baie populêr in die aartappelindustrie, omdat dit goed in enige omstandige kan funksioneer. Die Jasa-masjien is van Holland afkomstig en kan dertig 2kg sakkies per minuut lewer.  Die masjien is ‘n tipiese "form - fill - seal" masjien. Dit vorm die sakkies, vul die sakkies met uie en seël dan die sakkie bo. Dit werk op dieselfde beginsel as die maak van M&M lekkersakkies, ryssakkies en wasgoed poeiersakkies. 

Die nuwe sakkies het twee komponente, ‘clove’ teen die kant, wat ontwerp is deur 'n Amerikaner, Mr. Fox. Die ‘clove’ materiaal is dieselfde materiaal wat agterop 'n PnP uie- of aartappelsakkie is en laat die produk toe om asem te haal. Die ander komponent is die filmband voor en agter met die Dutoit-handelsmerk op wat bo en onder geseël word.

'n Landswye bekendstelling  het in Februarie afgeskop, en het gefokus op munisipale markte soos Johannesburg, Pretoria, Kaapstad, Durban en Bloemfontein. Met die hulp van die RSA markagente Jane, Wilmar en Deon asook Runei Kotze, Sosiale Media Bestuurder van Dutoit Groep, het ons 'n program voortgesit om die nuwe verpakking aan die publiek bekend te stel. Daar was gelukkige trekkings met groot pryse op die spel!

Op 23 Februarie was Johannesburg eerste aan die beurt. Die hele Dutoitspan was daar om die kliënte en markagente te ontmoet en ’n vertrouensverhouding te vorm. Die volgende dag was Pretoria aan die beurt. Willem De Klerk, Pretoria se RSA markagent, en sy span was baie braaf met hulle Dutoit T-hemde op ‘n koue oggend. Nietemin was hulle baie aktief met kopers en die nuwe verpakking het vinnig verkoop. In Bloemfontein het Mike van der Klashorst, RSA markagent, die trekking namens ons behartig. Wayne Torlage het in Durban hulle trekking gedoen en om die bekendstelling op ‘n hoë noot af te sluit, het ons by die Kaapse mark die finale trekking gedoen. Eriza, Munier en Geo van RSA markagente het baie moeite gedoen om ons produk goed uit te stal, die kliënte kon nie genoeg kry nie.

Na die loots van die nuwe kleinverpakking, is die terugvoer van die markagente en hulle kliënte baie positief. Almal is beïndruk met die hoë gehalte van die produk.  Dit is tans die enigste van sy soort op die uie-mark in Suid Afrika. Die verkope lyk positief met groot belangstelling van verskeie kliënte. Die hoogtepunt is dat sommige supermarkte die produk reeds op hul winkelrakke beskikbaar het.

Ek wil graag vir almal wat betrokke was met die reëlings, bedank vir hul bydraes. Dit was vir my ‘n voorreg om betrokke te wees met die loots van die nuwe Dutoit-kleinverpakking op uie. 

Vincent Hewitt
Marketer: Vegetables
+27 (0)23 313 3118
+27 (0)82 222 2251
vincenth@dutoit.com