News/Nuus

SeasonFresh Services (Pty) Ltd

SeasonFresh Services (Pty) Ltd, vol filiaal van Dutoit Invest, is Dutoit se groot stap om ‘n bemarkingsplatvorm in Johannesburg te vestig. Hierdie ontwikkeling skep die geleentheid om beter beheer oor ons produkte te kan uitoefen.

Die behoefte om nader aan Suid-Afrika se grootste markte te beweeg, is al ‘n geruime tyd deel van Dutoit Invest se beplanning. SeasonFresh het 11 Oktober 2016 hul eerste produkte ontvang, waarna ons vinnig ons voete moes vind voor die piekseisoentyd in Desember.

SeasonFresh is geleë in Midrand langs die N1, die besigste pad in Suid-Afrika, tussen Pretoria en Johannesburg. Ons diens tans die meeste groothandelaars met goeie resultate. Ons fokus is om kwaliteit produkte en beter diensverskaffing aan die groothandelaars te voorsien om sodoende die Dutoit-handelsmerk te versterk en groei in die Noorde te verseker.

Die kwaliteit kontrolespan bestaan uit 8 QC dames, met Carine Theron as die Afdelingshoof. Hulle speel ‘n baie belangrike rol om SeasonFresh se doelwitte in die bedryf te bereik. SeasonFresh se administrasie-afdeling bestaan uit 4 dames, onder leiding van Lohan Marais, wat ook verantwoordelik is vir die voorraadbeheerstelsel. Hierdie funksie speel ‘n integrale rol om hoë diensvlakke te verseker. Ons het tans ook 67 verpakkingspersoneellede, wat saam met Produksiebestuurder, Sifelani Sibanda, verseker dat alle bestellings stiptelik hanteer word.

SeasonFresh het hulself gevestig as ’n gedrewe diensverskaffer en is reeds 9 maande passievol in werking. Ons sien uit na die Steenvrugteseisoen en is gereed vir alle uitdagings wat op ons wag. SeasonFresh se volgende mikpunt is om ‘n direkteverkope-funksie te bedryf om ons verkopebasis te verbreed en sodoende die druk op munisipale markte te verlig wat moontlik  ‘n positiewe impak op die pryse kan veroorsaak.      

              

Julle Kollega uit die Leeuwêreld: John Davey