News/Nuus

Cape Fruit Coolers

’n Nuwe verkoelingsaanleg van Cape Fruit Coolers (CFC) in Milnerton naby Kaapstad bied ’n welkome oplossing vir uitvoerders wat kopkrap oor die toenemende druk in Durban se hawe. Die perseel, wat 5 000 palette vrugte op ’n keer kan hanteer, is met die nuutste tegnologie toegerus en is gebou om produkte met soveel as moontlik verskillende kouesteriliseringsvereistes op een slag doeltreffend te hanteer. Hierdie nuwe perseel van CFC het bykans die maatskappy se kapasiteit verdubbel (hul eerste perseel in Killarney Gardens kan 6 000 palette hanteer). 

Mnr. Pieter du Toit, voorsitter van CFC en uitvoerende hoof van die Dutoit Groep, ’n aandeelhouer in CFC, voorsien ’n groeiende vraag na voldoende fasiliteite om verskillende lande en produkte se kouesteriliseringsvereistes te implementeer. 

“Of dit Indië, die Verre-Ooste of die VSA is, en of dit avokado’s, sagte sitrus, appels, pere of druiwe is, ons sien baie meer besigheid in die kouesteriliseringsuitvoere.” Om hierdie rede is die nuwe aanleg so ingerig dat baie buigsaam en aanpasbaar is by verskillende koue-steriliseringsvereistes. 

“Die besluit om hier te investeer, is geneem nadat produsente die afgelope jare miljarde rande se belegging in die aanplant van nuwe boorde gemaak het. Dit vra waagmoed om in die huidige politieke klimaat nuwe boorde aan te plant, maar as ons kliënte die waagmoed het om te groei, moet ons as CFC ook daardie waagmoed hê,” het Du Toit gesê. 

Me. Francis Matthee, uitvoerende hoof van Ceres-koelkamers – ook ’n filiaal van die Dutoit Groep – was die projekbestuurder tydens die oprigting van die nuwe aanleg. “Ons wil graag ’n diens lewer wat geen ander fasiliteit bied nie. Daarom het ons verkoelingskamers laat bou wat spesiaal vir avokado’s ingerig is, en kamers laat bou wat mikrobestuur moontlik maak sodat vrugte wat teen verskillende temperature inkom, onmiddellik hanteer en verkoel kan word.” 

Die aanleg het ook ‘n inspeksiekamer wat inspekteurs vir veral die Amerikaanse koue-steriliseringsprogram vir somersitrus in staat stel om hul werk so gemaklik as moontlik te doen. Daar is ook genoeg ruimte om infrastruktuur vir nog 5 000 palette te skep. 

Die ander aandeelhouers in CFC is Goede Hoop Vrugte en AP Moller Maersk. Daar word slegs 75% van CFC se kapasiteit deur die aandeelhouers opgeneem.

Johan van der Merwe (Landbouweekblad)