News/Nuus

Dutoit Groente: Patatoes

Die nuutste toevoeging tot Dutoit Agri se pakprosesse is ’n uiterse eenvoudige, maar dinamiese patatpakstoor op Swartdam. Die pakhuis bestaan uit slegs twee paklyne, waar die patats met behulp van pakkers gegradeer en gesorteer word, om eenvormigheid en net die beste kwaliteit vir uitvoer te verseker. Grootte, kleur en letsels bepaal die sortering, sodat die patats in elke kartonhouer eenvormig is. Sedert die ingebruikneming van die nuwe pakstoor is dit moontlik om ongeveer 2 400 kartonhouers per dag (3 ton per uur) te pak. Cyril Rhode (Pakhuisbestuurder: Dutoit Groente) is elke dag op die perseel om seker te maak dat alles glad verloop.

Die eerste patats was middel Maart gereed vir oes, waartydens ‘n komplekse oesskedule gevolg word. Eerstens word die groei getermineer deur die ranke los te trek van die patats, wat dan bo-op die grond gepak word vir die beskerming teen sonbrand. Die patats word dan in die grond gelos, sodat die skil kan set. Die oesproses begin met ‘n uithaler wat die patats uit die grond lig, waarna alles met hand opgetel en versigtig in kissies geplaas word. Vanuit die kissies word die patats in ‘mini-bins “ geklas, gewas en na die afhardkamers geneem. Die patats moet dieselfde dag nadat dit uitgehaal is in die afhardkamers ingaan om te verseker dat die afhardproses so effektief moontlik geskied. “Mini-bins” word gebruik aangesien ventilasie in die afhardkamers baie krities is.  Die patats word in die afhardkamers gehou vir 72uur op 90% Relatiewe humiditeit en 30˚C.  Tydens hierdie tyd, vind wondgenesing en verdere afharding van die skil plaas asook ander fisiologiese ryp word prosesse.  

“Om 50 ton patats per hektaar te produseer, wat geskik is vir die uitvoermark, is ‘n perd van ‘n ander kleur.”, sê Johan Cronje (Landboukundige: Dutoit Groente) “Soos enige hoë waarde gewas wat op ‘n kommersiëleskaal verbou word, moet al die produksiefaktore optimaal benut word. Grondvoorbereiding, bemesting en plaagbeheer word bestuur op grond van grondontledings, blaarontledings en ook die landmonitordata. Goeie bestuur vanaf die oes tot na die afharding is kritiek en het ook ‘n baie groot invloed op die kwaliteit.”

Die patats word onmiddellik na die afhardingproses in die mini-bins na Swartdam vervoer, ongeveer 32km vanaf Skaapkraal.  Die ontwikkeling van die pakstoor het beter produktiwiteit verseker weens doeltreffende logistiek en die besparing van vervoerkostes.

Dutoit Groente het vir die afgelope 8 jaar patats na Europa en die VK uitgevoer. Die produkportfolio bestaan tans uit oranjevleis (Murasaki, Bosbok) en geelvleis (Orleans, Beauregard). Frankryk, Duitsland en Nederland vorm tans die grootste deel van die mark wat oranjevleis variëteite verkies. Pieter du Toit, Direkteur: Dutoit Groente, is baie positief oor die patat oes: “Vanjaar se kwaliteit is uitmuntend, ons sien uit na ‘n goeie jaar!”